“A good wife knows her place!”

30 09 2018

Elke paar jaar dan doen ‘n “good wife” lysie die rondte op die sosiale media – daardie lysie wat sê hoe lyk ‘n goeie vrou. Dan is dit alles oor die man, oor hoe die vrou hom gelukkig moet hou. “A good wife knows her place!”

As ‘n mens Spreuke 31:10-31 lees, klink dit amper na ‘n soortgelyke verhaal van hoe die vrou haarself ondergeskik aan die man moet stel Is dit egter werklik wat hier staan? Meer nog, is dit wat werklik nodig is vir ‘n gesonde huwelik?

Die Spreuke boek het twee gedeeltes wat hom omraam. In hfs 1-9 praat ‘n pa met sy seun, en hier in hfs 31 praat die ma met haar seun. Beide het iets om by te dra tot die opvoeding van die kind.

Verse 20-31 is in die vorm van ‘n akrostiese gedig geskryf. Dit beteken elke versreël begin met die volgende letter uit die Hebreeuse alfabet, daarom 22 verse vir die 22 letters in die Hebreeuse alfabet.

Mens bloos eintlik by die lees van hierdie gedig, want dit voel geen man of vrou kan by hierdie standaarde uitkom nie. Só ‘n knap vrou het volgens die gedig 22 voordele: Ek lig net so paar uit.
4. Sy is vaardig met die verwerking van ru-stowwe, wol en vlas – 31:13.
5. Sy sorg dat daar (eksotiese?) kos is – 31:14.
6. Sy maak kos – 31:15.
10. Sy produseer goedere met die spinwiel – 31:19.
11. Sy is vrygewig en sorg vir die armes – 31:20.
12. Sy sorg dat haar gesin klere het teen die koue – 31:21.
13. Sy maak self beddegoed en klere van linne en wol – 31:22.

Klink soos iets uit die 1950’s se “Good wife” lysie! As ons egter net dit raaksien, mis ons eintlik die hele punt! Daarvoor moet ons eintlik die Joodse gebruike bietjie bekyk. Hierdie gedeelte is tradisioneel een van die twee liedere wat ‘n Joodse gesin sing aan die begin van die Sabbat, by die Vrydagaand maaltyd (Sabbat is van sononder Vrydag tot sononder Saterdag). Die Eishet Chayil (soos dit genoem word), word gesing oor hoe ‘n vrou ‘n verskil aan ‘n gesin maak. Tot by vers 27 is dit normaal. Vers 28 draai die fokus egter vanaf die algemene tot die persoonlike.

Die Afrikaans sê hoe so ‘n vrou “geprys” word, letterlik vir haar “staan (jy) op” of “tree na vore “(DV). Dit is die Hebreeuse manier om te sê dat iets belangrik nou gaan gebeur. En wat is die belangrike? Die man draai na sy vrou en “besing haar lof”. “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal”! (:29 DV)

Kan jy jou indink aan die effek wat dit het as jy ten minste een maal ‘n week na jou lewensmaat draai en voor die hele gesin sê hoe trots jy op haar is, hoe sy almal oortref in jou oë! En dan nie net knap omdat jou broek reggemaak en jou knoop aangewerk is en die kos lekker is en die huis skoon is nie. Nee BAIE meer as dit.

Die Afrikaans woord “knap” dra ongelukkig nie die volle betekenis van die Hebreeuse “Chayil” oor nie. Die oorspronklike woord dra die betekenis van DAPPER, van STEWIG STAAN, van BETROUBAAR, van STERK wees. In ons samelewing word hierdie woorde meestal met mans geidentifiseer, maar die Hebreeus verwys ‘n paar keer in hierdie gedeelte met herdie woord na die vrou.

Meeste van ons het grootgeword met stories van sterk vroue, Racheltjie de Beer, voortrekker vroue kaalvoet oor die Drakensberg ens. Die Bybel is ook vol verhale oor sterk vroue: Miriam. Ragab. Jael. Debora. Rut. Naomi, Tamar. Ester. Elisabet. Maria, Jesus se ma. Hanna. Lydia. Priscilla. Marta. Maria, die eerste onder die apostels. Dorcas, ook bekend as Tabita. Loïs en Eunice en nog baie ander.

Christus self verwys na die gemeente, Sy kerk, die gelowiges, as Sy Bruid. En as Hy hierdie beeld gebruik, hoeveel te meer kan ons nie “opstaan”, “na vore tree” vir die dapper en sterk vroue wat in ons lewens is nie? Christus self het, teen die kultuur in, baie uitgereik na vroue. Hulle erken vir wie hulle is. Nie ‘n nagedagte nie, maar saam met die man, beeld van God: Gen 1:27 “God het die mens geskep as sy verteenwoordiger, as beeld van God het Hy die mens geskep, man en vrou het Hy hulle geskep.”

Draai sommer nou na jou maat en sê vir haar: “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal”! En ek sê vir al die vroue wat vanoggend alleen hier sit, om watter rede ookal, “Baie vroue het hulle knap gedra, maar jy, jy oortref hulle almal”!

(Spreuke 31:10-31 – Eisches Chayil gesing)

(Met erkenning aan “Seisoen van luister” en workingpreacher.org)

Advertisements




Genesis 1 en 2, vir oulaas

19 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Kan dit alles presies net so waar wees. Daar is dan so baie vrae oor hierdie vroeë teks.

Kom ons kyk maar net na een.

Hoekom is die volgorde van die skepping in Gen 1 en 2 verskillend?

Gen 1 – Lig – gewelf – droë grond en plante – son en maan – seëdiere en voëls – Landdiere en mens. Gen 2 – aarde en hemel – man – diere en voëls – vrou.

Om dit te antwoord, laat ons die vraag van ‘n ander kant af benader: Hoekom is daar twee skeppingsverhale in die Bybel? Ons moet weereens onthou dat mense in daardie tyd geskryf het met ‘n spesifieke doel. Hulle doel was NIE wetenskaplik soos ons dit verstaan nie. Die doel was om God se almag te bely, om te bely dat God geskep het en dit goed gedoen het. Dat alles en almal wat bestaan ons bestaan te danke het aan die genade en liefde van God. Gen 1 verduidelik hoe alle mense (nie net die koning nie!) na God se beeld geskep is. Gen 2 praat oor hoe die mens optree binne God se ruimte en tot Sy eer.

Nou hoekom dan Adam en Eva? Onthou eerstens dat die woord adam net die Hebreeuse woord vir “mens” is. Net so beteken “eva” “lewe” of “om te lewe”. Hebreeus as taal het eers vanaf so 2000vC ontwikkel. Wat in Gen 2 beskryf word is ‘n verduideliking van iets wat gebeur het VOORDAT Hebreeus nog as taal bestaan het. Wanneer Adam/Mens dan homself in Gen 2:23 verheug oor die vrou: “Hierdie keer is dit een uit myself, een soos ek. Daarom sal sy ‘vrou’ genoem word; sy is uit die man geneem” dan gebruik die Hebreeus die woorde “ish” en “isha” – man en vrou. Die woorde wat gebruik word dui bes moontlik doodgewoon op mense, dis nie voorname nie.

Hoekom is dit so? Hoekom word Genesis 1 en 2 op so ‘n manier vertel wat dit vir ons moeilik maak? Kom ek probeer die situasie aan die hand van ‘n paar stellings verduidelik, van dit sou julle al gelees het die afgelope paar weke.

1. Gen 1 en 2 stel nie belang in moderne wetenskap nie, weet niks van moderne wetenskap nie, en verduidelik die skepping aan die hand van hoe die mense van daardie tyd dit verstaan het.

2. Wat hieruit voortvloei is dat Gen 1 en 2 nie van 24 uur dae praat nie – volgens Gen 1:14 is die son en maan eers op die 4de dag geskep: “Toe het God gesê: “Laat daar ligte wees aan die hemelgewelf om dag en nag van mekaar te skei. Hulle moet ook as tekens dien om seisoene, dae en jare aan te dui.” Volgens hierdie vers is 24 uur dae eers op die 4de dag geskep!

3. Gen 1 en 2 kan nie gebruik word om evolusie te bewys of die teendeel, dat daar geen evolusie is nie, te bewys nie. Mense van duisende jare gelede het die ontstaan van alles, geïnspireer deur die Heilige Gees, beskryf in terme wat hulle verstaan het. Hulle het niks van evolusie of ander verduidelikings van die ontstaan van alles geweet nie. Dit was nie eers vir hulle ‘n vraag of God geskep het nie, dit was voor die hand liggend.

Die beeld wat ons uit Gen 1 en 2 kry, die beeld waaraan ons as God se geliefdes moet vashou, is die beeld van ‘n “hands-on” God wat die hele heelal, maar spesifiek die mens, met liefdevolle sorg skep. En daardie beeld verander nooit in die Bybel nie! Om die waarheid te sê, in die koms van Jesus, in dit wat Hy vir ons doen, word God se sorg net nog verder bevestig en uitgebeeld.

En dit is die kern van Genesis 1 en 2. God gee om. God versorg. God maak vir ons ruimte om Hom te dien en eer, om Sy verteenwoordigers te wees.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 2 – Rus?

12 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Genesis 2:2 :”Op die sewende dag was God reeds klaar met die skeppingswerk en het Hy gerus na al die werk wat Hy gedoen het.”

Rus. Rustig. Rus en vrede. Rus ‘n bietjie. Is dit nie baiemaal ons versugting nie? Ek onthou nog een van my proffies wat gesê het vakansie is ‘n tyd van rus, ‘n tyd van lê!

Baiemaal kyk ons na die einde van die eerste skeppingsverhaal en sien dat God gerus het, en dink dan dat God OPGEHOU het om iets te doen, dat God nou die skepping gelos het om op sy eie aan te gaan. In ons kultuur is dit ‘n gedagte wat sterk leef. Daar is ‘n gedagte wat al van die tyd van Isaac Newton en René Decartes kom dat God die wêreld gemaak en aan die gang gesit het soos ‘n horlosiemaker. Nou loop als maar op sy eie voort. God RUS nou, sit nou maar en hou die wêreld net dop. ‘n Gedagte wat uitgebeeld word in Bette Midler se liedjie – “God is watching us from a distance”.

Gelukkig is dit ‘n heel verkeerde verstaan van Gen 2:1-4! Kom ek probeer dit verduidelik met ‘n voorbeeld. As jy verhuis, trek, is daar ‘n klomp goed wat gebeur.  Dis inpak, bokse orals. Wanneer jy by die nuwe woning aankom is dit chaos. Daar is bokse orals, dit voel dat jy nooit klaarkry met uitpak, met wegpak nie. As als uiteindelik klaar is, sit jy nie net nie. Jy begin funksioneer in die huis. En dit is die beeld van Genesis 1-2, van die eerste skeppingsverhaal.

God het orde geskep, God het alles op plek gestel om te funksioneer, en nou funksioneer God binne Sy skepping.

Hierdie selfde beeld kry ons in Jesus se woorde. In Matt 11:28 sê Hy: “Kom na My toe, almal wat uitgeput en oorlaai is, en Ek sal julle rus gee.” Nie ‘n rus om agteroor te sit en niks te doen nie, maar ‘n rus waarin ons tyd en geleentheid het om tot Sy eer te leef. Ook die skrywer van Hebreërs 4 sien die Sabbats-rus wat op gelowiges wag as ‘n geskenk van God, ‘n tyd waarin ons Hom kan loof en eer. En al die voorbeelde bou op die manier waarop Eksodus na Gen 2:1-4 kyk. Na die slawerny in Egipte, waar daar geen rus was nie, word die 7de dag as rusdag ingestel. NIE as ‘n straf of selfs ‘n bevel nie, maar as ‘n GESKENK. Jy wat 350 jaar lank nooit rus geken het nie, kry nou ‘n dag waarop jy rus van jou normale taak en jouself opnuut kan wy aan God. Dat jy kan funksioneer soos God jou geskep het, as Sy verteenwoordiger.

Vir die ander volke van die Ou Nabye Ooste, soos die Babeloniërs, was rus net iets wat die gode toegekom het. En hulle het dit gekry omdat die mense hulle moes dien soos slawe.

Die beeld van die Bybel is TOTAAL anders! God skenk aan ons Sy rus. Wanneer ons dan hierdie rus wat God skenk geniet, is dit beide ‘n teken dat God vir ons sorg (want ons hoef nie altyd te werk nie) en dit is ‘n getuienis van God se versorging, genade en liefde. Van hoe God nog steeds funksioneer binne Sy skepping.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1 nogeens

5 08 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Mensig ek is besig!

Nee, jammer, ek het nie tyd nie!

Ek wens my lewe was nie so besig nie!

Klink dit bekend? Ons Westerlinge het ‘n bepaalde fokus op besig wees, so asof dit ‘n skande is om nie besig te wees nie. Elke minuut moet “produktief” gebruik word, anders voel ons skuldig. Dit veroorsaak natuurlik allerlei verhoudings- en gesondheids-probleme. Mense naby jou voel weggestoot want jy het nie tyd vir hulle nie. Jou besigwees en rondhardloop veroorsaak stresverwante probleme in jou liggaam.

Is dit wat God bedoel het? In Genesis 1:3-5 sien ons hoe God tyd skep en dit verdeel in tydperke van lig en donker. En voor jy dink alles bestaan al van altyd af, onthou dat Einstein met die Bybel saamstem dat tyd geskep is en gekrimp, gerek en gebuig kan word! So, wat sê die Bybel oor tyd?

Dit help dalk om die Nuwe Testamentiese woorde vir tyd te gebruik (Dit is natuurlik nie in die OT nie, maar help dalk met die verstaan) – In die NT word na tyd as of “chronos” of “kairos” verwys. Chronos is daai tyd wat ons so mee “besig” is, horlosietyd. Kairos is die Godgegewe tyd, die geleenthede, die “regte tye” wat Hy oor ons pad bring.

Genesis 1 praat in kairos tyd – Bereshith, beginnende, op Sy tyd, soos Hy wou, het God geskep. Vir die skrywer van Gen 1, en God, het dit nie gegaan oor horlosie of kalendertyd nie. Dit het gegaan oor God se regte tyd vir sekere goed om te gebeur.

‘n Groot deel van die Wysheidsliteratuur in die Bybel fokus op kairos-tyd. ‘n Mens is wys wanneer jy weet WANNEER om ‘n dwaas te antwoord of nie (Spreuke 26:4-5). Wanneer Prediker ons herinner dat daar ‘n seisoen vir alles is, praat hy nie van die kalender nie! Om God se tyd raak te sien, om die kairos moment raak te sien, is ‘n belangrike deel van ons Christelike lewe. Om te weet wanneer om te bemoedig en te troos, wanneer om fees te vier, en wanneer om te treur.

Ons, met ons kultuur, is werklik sleg met die herkenning van God se tyd! Ons dink gewoonlik net in chronos tyd. Dinge moet gebeur, moet stiptelik wees, moet afgehandel word. Die mense van die Bybelse tyd het glad nie so gewerk nie. Om te “wag op die Here” is gesien as deel van jou manier om God te dien en Hom te vertrou: “Wag op die Here! Wees sterk en laat jou hart sterk wees! Ja, wag op die Here!” Ps 27:14 ‘53 vert

Ons sien sit en wag as tydmors!

God, en die Bybelskrywers, het gefokus op die REGTE tyd vir iets om te gebeur, ‘n tyd waar God Sy doel kon bereik. Dinge, die skepping, Jesus se geboorte, Jesus se wederkoms, gebeur wanneer dit God se kairos-tyd, God se bestemde, regte, tyd is. ‘n Tyd wat ‘n sekonde, ‘n jaar, ‘n miljoen jaar kans wees, soos God wil. 2 Pet 3:8 “Een ding moet julle egter nie vergeet nie, geliefdes: vir die Here is een dag soos duisend jaar en duisend jaar soos een dag.” Ps 90:4 “Duisend jaar is vir U soos gister as dit verby is, soos een enkele wagbeurt in die nag.

Nou is die regte tyd om God te eer, God te dank, God te dien.

NS: Dit het ‘n reuse implikasie vir hoe ons die Bybel, spesifiek Gen 1, en ons eie lewens sien. Ons fokus op chronos sien jy in hoe mense wil uitwerk op watter datum is Jesus se wederkoms (chronos), ipv om HIERDIE OOMBLIK te sien as God se kairos moment, tyd aan ons geskenk.

Was die dae van Genesis 1 24 uur dae? Die Bybel stel nie belang in daardie vraag of antwoord nie! Dit was God se bestemde oomblik, God se kairos-tyd. Rom 5:6 “Toe ons nog magteloos was, het Christus immers reeds op die bestemde tyd vir goddeloses gesterwe.” God is nie gebind aan ons konsep van tyd nie, Hy het dit geskep!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1, wat sê dit?

29 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Dis lank, lank gelede. So 700 jaar voor Christus geleef het. Dis nou al 2700 gelede wat dié storie afspeel.

‘n Klein Joodse kindjie kom by sy oupa en vertel van ‘n storie wat hy by ‘n maatjie gehoor het. Die maatjie was van die land waar hulle nou woon, Babilon.

Die storie is verskriklik! Dit vertel hoe die gode met ‘n reuse seemonster baklei het. Nadat hulle hom oorwin het, het hulle kinders gehad. Gou gou het hulle egter onder mekaar baklei! Die twee hoof gode, Apsu en Tiamat, wou hulle kinders doodmaak omdat hulle te veel raas! Dit vertel hoe mense gemaak is om as slawe vir die gode te werk. Hulle moes alles doen, net om die gode gelukkig te hou.

Die Joodse seuntjie is heeltemal verwar! Kan dit so wees oupa? Is ons God ook so kwaad vir ons? Wil Hy ook van ons slawe maak? Moet ons Hom net gelukkig maak?

Lekker lag die oupa uit sy maag! Hierdie klomp Babiloniërs verstaan niks van liefde nie. Ons God, die ware God, werk heeltemal anders. Kom ek vertel vir jou ‘n baie ou verhaal van hoe God werklik is en hoe die wêreld ontstaan het.

Alles was woes en leeg. Daar was nie seemonsters nie, daar was niks, net ‘n reuse deurmekaarspul en chaos. God het toe begin om alles op hulle plek te sit. Alles te orden. Lig en donker het Hy geskei, so ons hoef nie bang te wees vir die donker nie, Hy het dit ook gemaak.

Die land en see het Hy op hulle plek gesit. Diere en mense het Hy geskep om daar te woon en dit te geniet. Selfs die ou seemonster waarvoor jou maaitjie so bang is, God het hom ook gemaak! (Gen 1:21). Die ou groot seeslang, die Leviathan, ag man, jy hoef glad nie bang te wees nie, God “het hom gemaak om mee te speel.” (Ps 104:26) Hy is ‘n speelding vir God, nie iets wat ons of selfs God bedreig nie.

Wow oupa! Dis ‘n mooi storie! Dis sommer BAIE mooier as my maatjie s’n!!

Die mooiste deel kom nog, sê die oupa! Jy onthou daai deel waar jou maatjie gesê het mense is as slawe vir die gode gemaak, mense moet maar net die gode gelukkig hou? Wel, dis glad nie hoe dit is nie!

Ons weet nie hoekom God besluit het om die heelal en mense te maak nie, maar God het dit wat Hy gemaak het lief. Hy sê dit self in die Bybel! Nie net het Hy die skepping lief nie, Hy vertrou ons so dat Hy ons aangestel het as Sy verteenwoordigers om hierdie skepping op te pas en te versorg. Dis hoe lief Hy ons het.

En ons wat nou 2700 jaar later leef? Hoe kan ons die oupa se verhaal glo? Ons het NOG MEER rede om dit te glo as die klein Joodse seuntjie. Hy was in ballingskap, hulle land was verwoes deur die Babiloniërs. Hulle het nog net uitgesien na ‘n Messias wat eendag sou kom om alles reg te maak. Ons weet egter van Jesus wat gekom het sodat ons kinders van God kan wees. Om ons te herinner dat NIKS ons uit die hand van God kan ruk nie. Om ons te herinner daaraan dat God ons werklik baie lief het en elke dag ons Pappa wil wees.

Sommer Pappa en Mamma wat ons versorg!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”

 

 

 





Genesis 1 – Slingertelefoontyd

22 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

Onthou jy nog ‘n slingertelefoon? Daai een wat jy geswaai het, dan het ‘n stem aan die ander kant gevra: “Nommer asseblief?” Wie weet vandag nog hoe so ‘n telefoon gewerk het behalwe die ouer mense? Is jou oupa of ouma dalk dom omdat hulle sukkel met ‘n selfoon? Kan jy so ‘n slingertelefoon gebruik?? Dit gaan glad nie oor slim of dom nie, dit gaan oor wat ons aan gewoond is, wat ons leer om te gebruik.

God wou nie in die Bybel verduidelik hoe elke dingetjie werk nie. Hy kom sê in die Bybel dat Hy betrokke was, dat Hy op elke vlak alles goed gemaak het.

God kom sê vir ons in Gen 1 dat Hy “geskep” het. En dan gebruik die skrywer die Hebreeuse woord “bara”. Die woord word 48 keer in die Ou Testament gebruik, en dit word ALTYD gebruik om iets aan te dui wat God doen – mense skep/bara NIE!

Nou kom die moeilike deel – “bara” verwys amper NOOIT na iets materieël nie (hard, sag, gas, ens). Dit verwys meestal na iets wat nie aan gevat kan word nie. So verwys Ps 89:13 daarna dat God Noord en Suid “bara” het. In Psalm 51:12 “bara” God ‘n rein hart, en so gaan dit aan. In Genesis 1 word die woord 2 maal gebruik – “Aan die begin het God geskep”, en God het die Leviathan, die seemonsters, geskep.

Nou wat beteken dit, wat sê dit vir ons in die 21ste eeu?

Eerstens kan ons vergeet daarvan om evolusie of sulke goed te bewys of verkeerd te bewys uit Genesis 1. Die Bybel stel doodgewoon nie daarin belang nie! In die leefwêreld waarin die Ou Testament geskryf is, was daar nie ‘n vraag of God of gode betrokke was by die skepping nie, dit is doodgewoon aanvaar.Die materieële oorsprong van alles was nie ‘n vraag nie.

Tweedens, kyk na die prentjie by hierdie blogpost (en die een van ‘n paar weke gelede daaroor) van die wêreldbeeld van die Israeliete. Chaos, die waters, die seemonsters, duisternis, dit alles is as gevare, as bedreiginge gesien. Alles wat buite die “hemelkoepel”, buite die “firmament” is, is gevaarlik! Nou kom Genesis 1 en sê, lag amper vir die vrees, jy’s bang vir die seemonster? God het hom ook geskep, op sy plek gesit.

Want dit is waaroor die hele verhaal van Genesis 1 gaan – God gee aan alles funksies, God orden alles, God plaas alles op hulle regte plekke, God laat alles goed werk. God het nie die mense van die slingertelefoontyd ‘n selfoon verduideliking gegee nie. Hy het dinge verduidelik op ‘n manier wat hulle verstaan het.

Ons dink dalk vandag dit het langer gevat as 24 uur, of dalk ook glad nie – DIT MAAK GLAD NIE SAAK HOE LANK DIT GEVAT HET NIE! Genesis probeer nie daardie vraag antwoord nie!

Genesis kom sê binne ‘n wêreld waar alles gevaarlik en boos gesien is, dat God alles orden en beheer. God hou selfs die seemonsters op hulle plek!

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”





Genesis 1 – Onwaar?

15 07 2018

WereldbeeldHier is ‘n poging om iets van die leefwêreld wat die oorsprong was van die skeppingsverhale in Genesis 1 en 2 weer te gee.

“Die Bybel is onwaar en onbetroubaar” skryf Prof. Jurie van den Heever in sy boek “Wat moet ons met ons kerk doen?” Hy baseer sy stelling daarop dat sekere goed in die Bybel beskryf word op ‘n manier wat ons vandag weet nie so is nie, bv die maan word as ‘n ligbron beskryf terwyl ons vandag weet dit weerkaats net die son se lig.

Is dit egter hoe ons die Bybel die denke van die Ou Testamentiese mense moet verstaan? Onthou, daar is niks in die Bybel geskryf wat verder gaan as die verstaan wat die mense van daardie tyd van die heelal gehad het nie! Kom ek sê dit weer, ons kry nie in die Bybel wetenskap wat verder gaan as die mense van daardie tyd se verstaan nie!

Wat bedoel ek hiermee? Vers 6 van Gen 1 sê: “Toe het God gesê: “Laat daar ’n gewelf wees tussen die waters om die waters van mekaar te skei.”

Die ‘83 vertaling praat van ‘n “gewelf”, die ‘53 van ‘n “uitspansel”, die Engels van “expanse” of “vault”. Die Boodskap praat van ‘n “soliede struktuur”, die Nuwe Lewende Vertaling van ‘n “hemelkoepel”. Mens hoor ook soms die woord “firmament” in hierdie verband. Net die klomp vertalings wys dat die Hebreeuse woord “raqîa” (wat met hierdie woorde vertaal word) nie so eenvoudig is om te vertaal en te verstaan vandag nie.

Die ou Hebreërs het die heelal verstaan soos die ander mense rondom hulle. Die wêreld was eintlik gevaarlik en wil jou doodmaak. As ons nou na “raqîa” op ‘n letterlike materiële vlak kyk, dan moet ons sê, die aarde is plat en daar is ‘n soliede koepel struktuur wat die waters van chaos weg hou van ons! (Kyk na die prentjie bo-aan). En ons WEET vandag daar is nie so iets nie.

Maar vir die mense van die vroeë tyd was “raqîa” iets funksioneel, iets wat God gebruik het om die wêreld te orden, om chaos en gevaar weg te hou en die wêreld se ritmes van reën en seisoene te orden en bepaal. God moes jou beskerm. Dis ‘n vreemde wêreld vir ons, maar as ons dit nie verstaan nie, verklaar en verstaan ons die Bybel verkeerd!

Vir die mense van daai tyd het die materiële eienskappe van ‘n ding nie saak gemaak nie (is dit hard, sag, vloeistof, gas, ens), wat saak gemaak het is die FUNKSIE van die ding. En vandag nog bely ons dat God ons lewens en hierdie wêreld in Sy hand hou. Ons verstaan van HOE Hy dit doen is net ANDERS as die mense van die vroeë tyd.

So, die Bybel is nie onbetroubaar en onwaar as ‘n mens dit korrek binne sy tyd se kultuur en verstaan van die heelal lees nie.

As ons dit dan nou binne sy kultuur verstaan, hoe “vertaal” ons dit na ons kultuur en kennis vandag? Want dit is nie net ‘n taal wat vertaal moet word nie, maar ‘n hele leefwêreld en kultuur.

Miskien moet ons die vraag omdraai? Wat is daar wat jou vandag die bangste maak? Politieke onrus? Finansiële onsekerheid? ‘n Toekoms vir jou kinders? Jou gesondheid? Jou huwelik? Die Woord kom herinner ons dan dat desnieteenstaande dit waarvoor ons bang is, dit wat ons in die nag laat wakker lê, God nog steeds daar is, dat Sy “Hemelkoepel” Sy “raqîa”, daar is om ons te beskerm, dat Sy genade en liefde nog elke dag daar is vir ons.

Image:  Hubbard, S., Ritzema, E., et al. with Logos Bible Software and KarBel Media, 2012. Faithlife Study Bible Infographics, Bellingham, WA: Logos Bible Software.

Meer om te lees: Walton, John H. :  “The Lost World of Genesis One: Ancient Cosmology and the Origins Debate”  en “The Lost World of Adam and Eve: Genesis 2-3 and the Human Origins Debate”