Pinkstersondag – “Vrede vir julle!”

1 06 2020

Pinkstersondag nagmaal. Die tweede keer hierdie inperkingstyd wat ons nagmaal by die huis vier!

Sit saam met jou gesin, steek ‘n kers aan om julle aan die teenwoordigheid van die Heilige Gees te herinner, bid saam en volg dan die stappe hieronder. Kry sommer solank jou brood en wyn/sap gereed vir die nagmaal.

Hier is ‘n pragtige vrede-storie vir die kinders of kleinkinders: https://youtu.be/7vi6oKbZeao

En hier is ‘n Pinkster inkleurprent vir die kinders en kleinkinders:https://convertkit.s3.amazonaws.com/landing_pages/incentives/000/467/334/original/PentecostColoring.pdf?1588810487

Hier is ‘n aanbiddingslied waarmee julle voor die tyd kan saamsing!Die bekende Skeppergees, maar op ‘n ander manier gedoen https://youtu.be/A05KktiCRkQ

Vandag se teks is Johannes 20:19-23

Die video op YouTube: https://youtu.be/iAj8NFxKv1I

Vir Audio alleen as jou data min is: https://anchor.fm/deon-strydom/episodes/Johannes-2019-23-Pinkster-Nagmaal-eep4p0

Video op ons kerk se direkte lyn na die oordenking : https://www.kerkaanlyn.com/stutterheim 

En ‘n pragtige lied om na die tyd na te luister – doen dit as jou aanbidding, geloofsbelydenis na die hoor van die Woord: https://youtu.be/L7J1_1vAOI4

Seën en sterkte vir die dag! Bid vir mekaar, ons land, almal wat moet werk en bly veilig!

DIE TEKS:

Johannes 20:19-23

Hierdie verhaal is een waarvoor daar lank gewag is in die Johannes evangelie. Om die waarheid te sê, Johannes die Doper het alreeds in hoofstuk 1 van die Johannes evangelie gesê: “dit is Hy wat met die Heilige Gees doop” (1:33).

In hoofstukke 14 tot 16 word allerlei beloftes gemaak oor die Gees van waarheid, die Gees wat ons sal leer en help om as Sy getuies te leef. Regdeur Johannes is daar die verwagting, wanneer kom die Gees?

En nou, hoe lyk dinge hier waar Jesus vir hulle sê: “Ontvang die Heilige Gees!” (:22)? Dit is nie eintlik ‘n mooi prentjie nie: “die deure (was) gesluit… omdat hulle bang was vir die Jode” (:19).

Te midde van hierdie vrees-gevulde atmosfeer breek Jesus se groet in: “Vrede vir julle!” (:19). Alreeds in 14:27 het Jesus vir hulle gewys daarop dat Sy vrede anders is as wat hulle verwag: “Vrede laat Ek vir julle na; my vrede gee Ek vir julle. Die vrede wat Ek vir julle gee, is nie die soort wat die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld wees nie, en julle moet nie bang wees nie.” Jesus se vrede is ‘n vrede wat Sy volgelinge laat staande bly te midde van verdrukking en moeilike tye (16:33), Sy vrede laat “Strome lewende water… uit (hulle) binneste vloei.” (7:38-39)

Wat bring die Gees en hierdie vrede in gelowiges se lewens? Vers 23 gee die resultaat in hierdie vreemde woorde weer: “As julle vir mense hulle sondes vergewe, word dit hulle deur God vergewe; as julle dit nie vergewe nie, word dit nie deur God vergewe nie.”

Kom ek sê sommer eers wat dit NIE beteken nie – ek en jy word nie deur die Gees aangestel om die wêreld se morele waghond te wees nie! Die Skrif is duidelik daaroor dat ons nie mag oordeel nie. Jesus koppel die geskenk van die Gees aan die vergifnis van sondes. En die werkwoorde wat hier gebruik word is almal passief, dit is God wat vergewe! Hy is die handelende een. Ons kan vergifnis verkondig onder leiding van die Gees, maar God is die een wat vergewe. En as ons nie verkondig en uitlewe nie? Dan help ons nie mense om vergifnis van God te ontvang nie!

Eintlik wys hierdie moeilike woord op die ongelooflike nou verhouding tussen God die Vader, Jesus, die Gees en Sy bruid op aarde, die gelowiges. In en deur ons leef Christus en maak Hy Sy vergifnis sigbaar.

Wat ‘n ongelooflike voorreg om op Pinksterdag herinner te word daaraan dat ons ook deel is van God se werk, van die sigbaar maak van Sy koninkryk hier op aarde.


Aksies

Information

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: