Sien die Koninkryk – Efesiërs 1:15-23

24 05 2020

Untitled 2.001Dag 4 van Pinkster 2020. Ons verander bietjie van rat vanoggend en laat die Shema rus tot môreoggend. 

Die boodskap hieronder is opgeneem en as video op YouTube of Audio op Anchor (en Spotify, Google Podcasts, ens) beskikbaar. Die teks verskyn hieronder, maar die video/audio aanbieding is redelik los hiervan.

Efes 1:15-23

Met Hemelvaart en in Pinkstertyd is dit belangrik dat ons herinner word om met nuwe oë na die werklikheid te kyk. Paulus se gebed vir die gelowiges is dat hulle verhelderde oë sal kry om die werklikheid te sien soos God wil hê ons dit moet sien. Wanneer Jesus uit die dood opstaan en na die hemel opvaar, gee Hy ‘n menigte dinge van onskatbare waarde aan die kerk, maar wat gelowiges nie altyd raaksien nie. Die gevolg is dat hulle voel die lewe is sinloos of moedeloos raak langs die pad. Ander word gedryf deur ‘n strewe na verkeerde soort rykdom, en sommige leef ‘n kragtelose lewe.

Paulus bid om nuwe oë vir die gelowiges, oë wat dit wat God gee, raaksien en hulle op ‘n ander manier laat leef. In sy gebed noem hy drie dinge wat ons moet raaksien:
• die hoop wat ons roeping inhou;
• die rykdom van ons erfenis; en
• die krag wat in ons aan die werk is.

Die hoop van die roeping wat ons ontvang het, roer twee baie groot probleme aan wat ons dikwels ondervind: sinloosheid en moedeloosheid.

Baie mense leef maar net, of leef sonder ‘n duidelike besef dat dit waarvoor hulle hulle op aarde afsloof, werklik blywende waarde kan hê. Sommige vind die sin van hulle bestaan in oppervlakkige dinge soos ‘n duur vakansie of motor en sekuriteit terwyl ander net leef vir hulle aftrede. God roep ons egter tot ‘n betekenisvolle lewe, sodat ons aardse lewe oor meer sal gaan as rykdom of oorlewing. Ons kan leef in ‘n roeping wat aan ons en die wêreld hoop gee. As ons daarmee besig is, het ons lewe sin – in hierdie aardse lewe en vir ewig in God se koninkryk! Ons roeping is om saam te werk aan die koms van God se koninkryk. En al sien ons nie nou die volle betekenis van ons werk nie, kan ons vorentoe kyk en weet God sal dit tot volheid bring.

Maar soms sukkel ons, veral as ons probleme kry, om hieraan vas te hou. Dit kan wees dat ons moedeloos langs die pad gaan sit. Wat is dit wat gelowiges laat volhou op die pad agter Jesus aan? Dit is die roeping wat ons ontvang het en die wete dat ons lewe hier en hierna sinvol is. Ons is nie mense wat op sand bou nie. Wanneer Jesus na die hemel opvaar, laat Hy vir ons ‘n roeping na, naamlik om deel te wees van die bouwerk in God se koninkryk.

Nou hoe lyk hierdie koninkryk? God se koninkryk moet raakgesien word met Sy oë. Met verhelderde “geestesoë” (:18) kyk ons anders na die wêreld en wat om ons gebeur. Leef ons anders!

• Ons kan net eenvoudig op ‘n nuwe manier leef. Gelowiges is nie meer mense van die duisternis nie, maar mense van die lig. Omdat ons saam met Jesus uit die dood opgestaan het, moet ons nuut leef, ons kan nie soos tevore leef nie. Ons is mense wat nuut is en die sonde voer nie langer heerskappy in ons nie. Die Gees gee ons die vermoë tot ‘n heilige lewe.
• Ons kyk na die lewe op ‘n nuwe manier. Ons leef uit die krag van die opstanding as oorwinnaars saam met Christus. Al is daar allerhande kragte en magte aan die werk in die wêreld, is ons gelowiges wat ons krag put uit die oorwinning van Jesus oor alle magte en elke gesag, elke krag en heerskappy waarvan daar sprake kan wees. Ons leef daarom nie met vrees nie, maar met die sekerheid van die oorwinning.

Hierdie gebed wil ons herinner aan die krag waaruit ons moet leef. As jy ‘n middelmatige lewe wil hê met middelmatige impak, doen dit dan in jou eie krag. Maar as jy ‘n lewe wil hê wat regtig ‘n verskil maak, skuif opsy sodat die krag van God, wat Jesus uit die dood opgewek het, jou lewe kenmerk. Maak jou oë oop en sien wat God doen. Moenie in jou eie krag leef en werk nie. Leef en werk in afhanklikheid van God en die krag van die Gees, sodat sy krag die verskil sal maak.

Met erkenning aan “Preekriglyne”: https://preekriglyne.co.za/efesiers-115-23-21-mei/

 


Aksies

Information

Laat 'n boodskap

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out /  Verander )

Google photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google. Log Out /  Verander )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out /  Verander )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out /  Verander )

Connecting to %s




%d bloggers like this: