Familie!

27 05 2018

“”Abba!” Dit beteken Vader” (Rom 8:15). En ons kan dit sê, want ons “het die Gees ontvang wat (ons) tot kinders van God maak.” Maar nie net randfigure, kinders wat “gesien maar nie gehoor moet word nie”, “erfgename” (Rom 8:17), mense wat die volle aanvaarding ontvang het as kinders, wat die volle toegang het tot die erfporsie. En nie net erfgename nie, maar MEDE-ERFGENAME saam met Jesus, die Seun! Dit is waarmee ons teksgedeelte begin vandag. Ons is mense wat volledig aanvaar en geliefd is, wat God Vader mag noem.

Dit sê eintlik vir ons al klaar alles van God se wese. Wanneer ons probeer verstaan wie God is, praat ons eintlik nie in abstrakte terme soos “alomteenwoordig”, “alwetend”, “Drie-Eenheid” ens nie, ons praat oor die hart van God, waartoe Hy verbind is. En dit is verhoudings. God is ‘n verhoudingswese, ‘n heilige “familie” van Vader, Seun en Heilige Gees. En die wonder van dit alles is dat ons ingetrek is in die verhouding met God.

Om die Drie-Eenheid te verstaan moet ons verstaan dat die Bybel oor God in verhoudings terme praat – verhoudings tussen Vader, Seun en Gees maar ook altyd van verhoudings met ons! Die verhoudings binne God as Vader, Seun en Gees sluit ons in hierdie verhoudings in. Wanneer dit gebeur, weerspieël ons lewe en verhoudings iets van die Goddelike lewe. Die verhoudings binne die Drie-eenheid vorm ‘n huishouding van Vader, Christus (die Seun) wat die wettige Erfgenaam is, en die Gees wat die Getuie (die wettige Verteenwoordiger) van die huishouding is. Hierdie huishouding is nie geslote nie, maar wil ons daarby insluit deur “aanneming tot kinders”. Dit is hoekom die vroeë kerk die term “perichoresis” vir hierdie verhouding gebruik het. Dit is soos ‘n dans wat die Drie-Eenheid in perfekte harmonie saam dans, maar ook terselfdertyd vir ons innooi om saam te dans. Dit gaan nie oor swaarwigtige teorieë van duisende jare terug nie.

Om te glo in die Drie-Eenheid is om te glo in ‘n God wat omgee, wat betrokke is in ons lewens, wat belangstel. Wat ons deel wil maak van Sy lewe. Die erfgename van God, die kinders van God, is nie ‘n gebou nie, maar mense wat elke dag aanpak in afhanklikheid van God. Ook staan ons nie alleen nie. Ons, NG, Presbiteriaan, Rooms Katoliek, Baptis, ens., almal is erfgename van God. Gesamentlik deel van God se familie.

Hoe toets ons dit? Hoe wys ons in Wie of wat ons werklik glo. Joh 17:21, 23 “Ek bid dat hulle almal een mag wees, net soos U, Vader, in My is en Ek in U, dat hulle ook in Ons mag wees, sodat die wêreld kan glo dat U My gestuur het. Ek in hulle en U in My, sodat hulle volkome een kan wees, sodat die wêreld kan weet dat U My gestuur het en hulle liefhet net soos U My liefhet.” “Sodat die wêreld kan glo”, wat glo? Dat Jesus deur God gestuur is, die Messias.

Verhoudings, met mekaar en met God en saam met die dans van God is ‘n ongemaklike waarheid van die Bybel. Ek kan nie “Abba” sê as my geloof net oor myself gaan nie. Ek kan nie deel van die familie wees as ek my geloof misbruik om ander te veroordeel of om mag oor hulle uit te oefen nie. Ek is tempel van God net sover ek dit saam met die familie, mede-gelowiges, is.

“Our faith is personal but never private, meant not only for heaven but for this earth.” (Caroline Lewis)

So, die Drie-Eenheid is nie net redenasies van eeue terug nie. Dit bepaal hoe ek my mede-gelowige behandel. Dit bepaal hoe ek die Chinese of Moslem winkeleienaar behandel. Dit bepaal wat my prioriteite is – as gemeente en as individuele gelowige. Om te glo in die Drie-Eenheid is om te glo dat God in ‘n verhouding met ons is en wil wees, dat ons Abba mag sê. Om te glo in die Drie-Eenheid is om te sê dat AL ons verhoudings en interaksies bepaal word deur ons deel wees van die familie van God!

(Met erkenning aam “Woord en Fees” en “Workingpreacher.org”)


Aksies

Information

Lewer kommentaar