Opstanding – vreugde of vrees?

20 04 2014

EE6emptytombMatteus 28:1-10: Ná die Sabbat, teen dagbreek op die eerste dag van die week, het Maria Magdalena en die ander Maria gegaan om na die graf te kyk. Skielik was daar ‘n groot aardbewing, want ‘n engel van die Here het uit die hemel neergedaal, nader gegaan, die steen weggerol en daarop gaan sit. Sy voorkoms was soos weerlig en sy klere wit soos sneeu. Uit vrees vir hom het dié wat die graf bewaak, gebewe en soos dooies geword. Toe wend die engel hom na die vroue en sê: “Moenie langer bang wees nie, want ek weet julle soek Jesus, die gekruisigde. Hy is nie hier nie, want Hy is opgewek, soos Hy gesê het. Kom kyk na die plek waar Hy gelê het; en haas julle en gaan sê vir sy dissipels, ‘Hy is opgewek uit die dood! Kyk, Hy gaan voor julle uit na Galilea; daar sal julle Hom sien. Dit het ek vir julle gesê.’ ” Met vrees en groot blydskap het hulle haastig van die graf af weggegaan en gehardloop om die boodskap aan sy dissipels oor te dra. Onverwags het Jesus hulle tegemoet gekom en gesê: “Gegroet!” Hulle gaan toe nader, gryp sy voete en aanbid Hom. Daarop sê Jesus vir hulle: “Moenie langer bang wees nie. Gaan sê vir my broers dat hulle na Galilea moet gaan; daar sal hulle My sien.” (2014 Afrikaanse vertaling)

Vreugde! Vreugde! Dis waarmee ons opstanding Sondag assosieer. Die engel kom en sê: “Julle moet nie bang wees nie.” Terwyl dit gesê word, teken Matteus egter ook ‘n prentjie van die opstanding wat so skrikaanjaend is dat die wagte flou neerval! Dis ‘n aardbewing, die steen wat wegrol, en ‘n engel wat genoeg is om enigiemand die skrik op die lyf te jaag. “Sy voorkoms was so blink soos weerlig”

G’n wonder die vroue was bang nie! Daarom dat die engel hulle eers moet vertroos, voordat hy die nuus oor Jesus se opstanding met hulle deel. Selfs toe Jesus op die toneel verskyn selfs al gryp die vroue Hom aan sy voete en aanbid Hom, moes hy weer vir hulle sê: “Moenie bang wees nie.”

So die opstanding is nie net vreugde nie, dis ook vrees, omgekrap, omvergewerp wees.

☛ Ons wat nou die opstandingslewe leef, vind dat dit ook ons realiteit is. Al het Jesus opgestaan, al glo ons in Hom, al bely ons dat Hy aan die regterkant van God sit, dat die Gees in ons woon, is daar baiemaal meer vrees as vreugde in ons lewens.

• Vrees oor wat met ons kinders gaan gebeur in ‘n onveilige wêreld. Vreugde oor die mense wat hulle vir ons is.
• Vrees oor of ek, in vandag se ekonomie, oor ‘n jaar werk sal hê. Vreugde oor die werk waarin ek staan en die mense saam met wie ek werk.
• Vrees oor ‘n geliefde wat dalk met siekte sukkel. Vreugde oor wat daardie persoon vir my beteken.
• Vrees oor wat die komende verkiesing vir ons inhou. Vreugde dat ons in ‘n demokratiese land leef waar ons wel ons kruisie mag trek.

Byna alles in ons lewens het hierdie dualsime ingebou – vrees of bekommernis versus vreugde.

☛ En al kom Jesus en sê: “Moenie bang wees nie”, is die vroue nog steeds bang, al sien hulle dat Hy opgestaan het. Dis of dit iets in ons menswees is wat aanhoudend die vrees na vore roep. Jesus kom nie en neem alle vrees in ons lewens weg nie, nee Hy gee eerder vir ons die waagmoed om te midde van ons vrees Hom te vertrou, om te midde van dit wat my laat bewe te kan sê: “Ek is tot alles instaat deur Christus wat my krag gee.”

En as vrees dreig om my lewe oor te neem? As ek glad nie die vreugdes raaksien nie en net die negatiewe raaksien?

Dan kom Jesus nog steeds en sê: “Ek is by julle al die dae tot die voleinding van die wêreld.” (28:20) Hy het nie ‘n vreeslose bestaan kom belowe nie, Hy het ons eerder kom versterk om te midde van ons eie vrees en kleingelowigheid aan Hom vas te hou.

Die lewe sal sy aardbewings hê. Die lewe sal verskynsels hê wat ons laat bewe. En ek ontken glad nie dat daar dinge is wat ons moet vrees nie, nee daar is regtig genoeg om te vrees!

☛ Die opstanding van Jesus kom herinner ons egter dat dit wat ons vrees nie die laaste sê het nie. Jesus se opstanding gee vir ons die moontlikheid van vreugde, van hoop, van waagmoed.

Hoekom? Want in die opstanding word alles verander. Ons sien God se belofte dat lewe sterker is as dood, waar word. Ons sien dat liefde groter is as haat. Ons sien dat genade veroordeling oorkom. Ons sien dat lewe lyding kan oorbrug. Ja, dood en lyding en haat kan regtig ons lewens totaal omkrap, maar ons leef in die hoop in Christus.

☛ Vrees en vreugde. Twyfel en geloof. Wanhoop en hoop. Dit is twee kante van ons lewens. Opstandingsondag herinner ons aan watter kant wen!

Image: http://www.turnbacktogod.com/wp-content/uploads/2012/04/Empty-Tomb-Picture-16.jpg


Aksies

Information

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: