Lewe onder die maatemmer…

9 02 2014
Image

By Lindsay Hafner

Matteus 5:13-16 is so ‘n bekende verhaal. Ons WEET wat dit sê, daar’s niks nuuts in nie. Ja dit mag dalk waar wees, maar ons kan so WEET wat daar staan dat ons eintlik vergeet wat daar staan, want ons let nie meer op nie, ons laat nie meer die Gees toe om deur die teks met ons te praat nie….

“Indulge” my vir ‘n oomblik as ek net een of twee van die dinge wat ons WEET uitlig…

☛ Jesus kom en herinner die dissipels dat hulle NOU sout en lig is, nie iewers in die toekoms nie. Ons gaan nie eers eendag in die hemel sout en lig wees nie, nee ons is geroep om NOU sout en lig vir die wêreld te wees. Ons is geroep om nou die wêreld waar ek leef – huis, werk, ontspanning, ens – smaakvol en helder verlig te maak.

Ons is nie net geroep om agteroor te sit en die oorvloedige lewe van Christus te ontvang nie, ons is geroep om ‘n verskil te maak in die wêreld waar ons leef. Ons IS die sout wat smaak gee aan die lewe rondom ons. Ons IS die lig wat God se geregtigheid en genade uitwys en verlig sodat almal daarin kan deel. Maar nog sout nog lig bestaan vir hulself – albei het net nut as dit gebruik word, uitgegooi word.

Ons neem die twee elemente vanselfsprekend deesdae. Maar in Jesus se tyd was dit albei baie waardevol. Sout is uitgegrawe in soutpanne, met kamele oor baie kilometers gebring. Die kwaliteit was baie wisselvallig. Nie alle sout was ewe goed, ewe smaakvol of bederfwerend nie. Die swak sout gaan af, dit het bymengsels wat onbruikbaar is en geen krag het nie. Dit word weggegooi en vertrap.

Lig het hoofsaaklik van olyfolie lampies gekom, weereens moes dit olie voorberei word. Dit was nie so eenvoudig as om ‘n skakelaar aan te skakel nie. Sout en lig is dinge wat ‘n verskil maak.

☛ Nou wat maak ons met die sout en lig wat ons veronderstel is om te wees? Jesus gebruik ‘n snaakse beeld – steek die lamp aan en sit dan ‘n emmer bo-oor sodat niemand dit kan sien nie! Wie sal nou so iets wil doen?? Wie sal nou die lig wat God hom gee wil toemaak?

Ek dink tog ons doen dit, ons doen dit dalk selfs onbewustelik. Ons doen dit as gemeente en ons doen dit individueel…

– Dalk is dit ‘n kompleks van te dink ons is te klein of te arm om enigiets te beteken in God se koninkryk. Ons vergelyk onsself met die gemeente wat ons op die TV sien of die “goeie ou dae” toe die kerk vol mense en kinders was. Dan sê ons – “Ons kan nie”! So blok ons God se lig uit!

– Of dalk is die emmer oor ons lig onderlinge spanning tussen mekaar. Ons wil hê dinge moet volgens ONS siening gebeur en ons gee nie ruimte vir die korreksie wat ander se menings op ons eie siening kan bring nie.

– Dalk is die emmer oor my lig baie meer persoonlik, dalk dink ek EK is te ongelowig, te sleg, sonder die nodige kennis, so ek sit liewer ‘n emmer oor die lig wat God my gee.

– Dit kan selfs wees dat ek dink dit is nie regtig my taak om lig te wees nie, ons betaal mos ‘n professionele Christen – die dominee – om die dinge namens ons te doen. Hy en die kerkraad moet sorg dat ons lig skyn.

Wat dit ook al is, dit is vreeslik aanloklik om die lig toe te maak, want dan hoef ek nie raakgesien, uitgeken te word as lig van God, as sout vir die aarde nie. Ek kan maar iewers stil sit, my eie ding doen en ander toelaat om sout en lig te wees.

☛ Die ongelooflike is dat my lig en ons lig as gemeente nie per ongeluk onder die emmer beland nie. Nee, ONS sit dit daar! Ons hoor eintlik in vers 15 hoe vreemd dit vir Jesus klink – “Geen mens steek tog ‘n lamp aan en sit dit onder ‘n emmer nie!”

Jesus is duidelik daaroor. Ons is nie slagoffers wat geen beheer het oor of ons lig skyn of nie, of ons sout smaak gee en bederfwerend is of nie. Ons plaas die emmers van minderwaardigheid en spanning oor ons lig, niemand anders nie!

☛ In sommige gevalle kan dit so erg raak dat ons emmers later ons identiteit vorm – Ons kan nie uitreik/’n verskil maak/sout wees/lig gee nie, want…. Ons is klein/ons het nie geld nie/ons is te ongelowig/…. Die snaakste is dat ons soms vashou aan hierdie verskonings, dit raak wie ons is. Dit MAAK wie ons is. Dan word ons gevange gehoue deur die leuens dat ons nie Christen genoeg is nie, genoeg geloof het nie, genoeg kerk toe gaan nie, die Bybel goed genoeg ken om lig of sout te wees nie,

Jesus kom breek egter hierdie valse verskonings waaragter ons wegkruip. Want Hy maak ons die sout vir die aarde. Hy gee die lig wat deur ons skyn. Hy stel ons in staat om Sy opdrag uit te voer: “Julle moet soos ’n lig in hierdie pikdonker wêreld skyn.” (:16) En dan gee Hy die belofte: “Die lig skyn in die duisternis, die duisternis kon dit nie uitdoof nie.” (Joh 1:5)

☛ Om as Christen te leef beteken nie om ‘n reëls en wette na te kom nie, dit is om so te lewe dat ons smaak bring waar dinge onsmaaklik is, dat ons bederf teenwerk, dat ons lig bring om te keer dat mense nie val nie en mekaar kan sien. Om as Christen te lewe is om werklik, deur God se genade, goeie nuus te leef! Nie opsioneel nie, as deel van ons identiteit!

(Met erkenning aan workingpreacher.org)

(Image by Linday Hafner: http://www.artifolio.com/uploads/l/lindsayhafner/34296/Artwork-Matthew-5%3A13-16.jpg)


Aksies

Information

2 responses

18 02 2014
lynne meyer

Deon

Ek wil graag die goeie nuus as eposse ontvang, is dit moontlik?
Dankie Lynne

18 02 2014
Diakonos

Dankie vir die vriendelike woorde Lynne. Dit is heeltemal moontlik om dit as epos te ontvang, kyk net aan die regterkant op die blog, net so entjie bokant die argiewe, is daar ‘n blokkie wat sê “Sign me up”. As jy daar click behoort dit so te werk dat jy jou epos intik en dan kry jy kennis elke keer as ‘n inskrywing hier verskyn.
Hoop dit help!

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: