Moeilike tye!

19 11 2010

André Swiegers sing, as sy 1966 VW Beetle weereens gaan staan, van “Moeilike tye”. Dit is iets wat ons almal seker onsself mee kan vereenselwig – of dit nou droogte, of finansies, of kinders, of politiek, of watookal is, ons weet van “moeilike tye”. Soms glo ons dat ons dit beter verstaan as enigiemand anders, want al die moeilikheid kom dan altyd na MY kant toe.

Dit is so dat ons in moeilike tye leef. Redelik gereeld hoor ek mense opmerk dat ons nou beslis in die laaste dae leef. Die wederkoms is ophande! Kyk net hoe sleg gaan alles.

Moeilike tye omdat die Wederkoms op pad is, soos Maleagi ons waarsku. Maar ook moeilike en selfs gevaarlike tekste, want daar is altyd iemand wat hierdie tekste probeer uitwerk, probeer ‘n datum gee vir wanneer die Wederkoms dan nou gaan gebeur. So is die Internet op die oomblik vol van ‘n radiostasie wat 21 Mei 2011 as die Oordeelsdag aankondig.

Gevaarlik want niemand het nog ooit reg voorspel nie – dieselfde radiostasie wat 21 Mei 2011 nou so seker aankondig as Oordeelsdag, het in die verlede 6 September 1994 as Oordeelsdag aangekondig. Regdeur die geskiedenis, vanaf die vroeë Christelike kerk, het mense die laaste dae aangekondig, maar dit lyk vir my ons is nog steeds hier.

Maar ook gevaarlik want mense speel met die Bybelse teks asof dit ‘n kode of wiskunde is, eerder as om dit te sien as God se waarskuwing en oproep om elke oomblik gereed te wees vir Hom – vir Sy wederkoms, maar ook om gereed te wees om as Sy getuies op te tree. Jesus self het ons gewaarsku: “Waak dan, omdat julle die dag en die uur nie weet waarop die Seun van die mens kom nie.” (Matt 25:13)

Die grootste gevaar is seker egter dat ons dink ons kan die meesters raak van die Woord van God deur al hierdie vreeslike goed uit te werk. God se Woord is die lig vir ons voete, die riglyn waaraan ONS moet vashou. 2Ti 3:16 sê nie verniet nie: “Die hele Skrif is deur God geïnspireer en het groot waarde om in die waarheid te onderrig, dwaling te bestry, verkeerdhede reg te stel en ‘n regte lewenswyse te kweek,” Ons is onder die Woord, nie die Woord onder ons nie.

Ten spyte daarvan dat Jesus self in Matt 24:26 sê: “maar niemand weet wanneer daardie dag en uur kom nie, nie die engele in die hemel nie en ook nie die Seun nie. net die Vader weet dit.” – ten spyte daarvan kom daar keer op keer weer mense wat ander verlei met sogenaamde voorspellings, of profesieë.

Die belangrike is nie om die Woord van God te probeer manipuleer nie. Moenie probeer om ‘n Dan Brown of Michael Drosin op die Bybel te trek en allerlei kodes daar in te lees nie. Die Woord van God moet gelees word as God se manier op met ons te praat, nie in kodes nie, maar in taal wat verstaanbaar was vir die mense wat dit gelees het, en wat vir ons nou verstaanbaar is. Soos Johannes 5:25 sê, die tyd is NOU. Nou is God se tyd van oordeel. Nou is God se tyd van redding. Nou is die tyd waarin ons moet leef as God se verteenwoordigers, as Sy getuies.

Maleagi beteken “My boodskapper”, en dit is juis die punt. Hierdie is nie menslike woorde nie, maar God wat via Sy boodskapper vir ons wil oproep daartoe om gereed te wees vir die koms van Sy Seun in ons harte en in ons lewens.

Wanneer Maleagi hier in die 5de eeu voor Christus skryf, is die volk lankal terug uit ballingskap, die tempel is herbou, en alles gaan goed… op die oog af. Die volk het egter al weer begin om teen God te oortree. Om God te probeer manipuleer deur hulle godsdiens, onderdrukking van swakkes en armes, korrupte leiers. Te midde van dit alles sê Maleagi – pasop! Die dag van die Here kom! Wie sal dan staande bly?

Slegs diegene wat onder die vleuels van die Here (Ou vertaling) hulle redding en skuiling vind. Dit is so maklik om selfgenoegsaam terug te sit en ‘n skeiding te maak tussen ONS en HULLE – Ons die goeie mense en HULLE die slegtes. Die wat gered word op die dag van die Here is egter hulle wat eerbied het vir God, wat God toelaat om hulle te beskerm onder Sy vleuels, nie die wat op eie geregtigheid staatmaak nie. Ook vir ons kom die woorde van God in Matt 23:37: “hoe dikwels wou ek jou kinders bymekaarmaak soos ‘n hen haar kuikens onder haar vlerke bymekaarmaak”.

In moeilike tye, in gevaarlike tye, help dit nie om in kodes, voorspellings en profesieë redding te gaan soek nie. Onder die vleuels van die Here, as mense wat weet dat ons van Hom afhanklik is, daar is die redding!

Leef alreeds nou deur God se genade op die nuwe aarde.  Jesus het vir ons gesterf – ons hoef geen oordeel te vrees nie – ons hoef nie te fokus op EENDAG nie – Christus is NOU deel van ons lewe, nou help Hy ons om te “cope” met die moeilike tye. Agv Hom kyk ons anders na die wereld, na verhoudinge.  Ons konings kinders van God kan en moet ons juig en jubel want deur Jesus leef ons as oorwinnaars.

Mal 4:2 “ Julle sal vry word en bokspring soos vetgemaakte kalwers” Dis ons daai!  Ons is vry deur Jesus. NOU en vir altyd.

(Maleagi 4:1-3. Met erkenning aan WorkingPreacher.org)


Aksies

Information

4 responses

22 01 2011
johannes coetzee

Ek volg die teaching nou al vir die afgelope 7jaar en moes vir myself gaan seker maak of alles nie dalk “geskrywe” staan en dat ons as christene nie maar in dieselfde valse gevoel van vrede leef as waarin die joodse volk met die eerste koms van die Messias leef nie.

Vandag kan ek nie anders as om saam te stem met dit wat Family Radio nou wereldwyd in 60 mainline tale verkondig nie. Ja en alles staan “geskrywe”…..

Dis nou minder as 17weke is naby genoeg om te sien ware en wie valse profete is, en ek is bevrees die meerderheid sogenaamde “christene” gaan agterbly….

Vrede tot en met 21 Mei 2011 wanneer alle vrede van hierdie aarde gaan verdwyn en GOD, die Skepper van die hemele en aarde met Sy finale oordeelsdag oor die res van die wereld gaan begin om uiteindelik met hierdie “geslag” klaar te maak….

Vrede want hierdie genadige GOD sal soos ‘n dief in die nag oor diegene (waarvan almal hulself onder die gesag van die moeder van die hoere, naamlik die kerke en kerkstrukture bevind, wat nie waak en bid nie), en jy weet seker netso goed soos ek dat die meerderheid christene (my skatting is meer as 95%) lees nie die Bybel nie en het dus geen benul wat “geskrywe” staan nie…..

(Joh 1:10) Hy was in die wêreld, en die wêreld het deur Hom ontstaan, en die wêreld het Hom nie geken nie.

(Joh 1:11) Hy het na sy eiendom gekom, en sy eie mense het Hom nie aangeneem nie.

Dit staan op die punt om die tweede keer weer te gebeur….

Vrede

Mag GOD elkeen van ons genadig wees

Family Radio luisteraar
AM 1197khz (tussen 18h00 en 01h00) as jy in Suid Afrika woonagtig is

17 03 2011
22 01 2011
Diakonos

Dagsê Johannes!
Dankie dat jy die moeite doen om my pogings te lees, en daarop te reageer. Ek waardeer dit.

Dit is seker vir jou duidelik dat ek en jy na die saak van twee verskillende kante kyk, maar ek vra myself af – wat is hierdie kante? Ek wil my verstout om te sê dat ons albei in Jesus Christus glo, en albei Sy wederkoms verwag. Ons albei lees die Bybel, en in my vriendekring is daar nogal heelwat ander wat die Bybel gereeld lees en bestudeer. Ja, daar is seker baie ander wat op ‘n sensus vorm sal invul “Christen” wat geen poging aanwend om dit as ‘n werklikheid uit te leef nie.

Ek verstaan egter nie hoekom Family Radio so sterk op ‘n spesifieke datum wil aandring nie, veral in die lig van Matt 24:26 Matt 25:13. Ek glo dat ‘n Christen elke oomblik van elke dag die Lig van Christus moet laat skyn, en dus elke oomblik gereed moet wees vir Christus se wederkoms.

Ek sal dit nogal waardeer as jy vir my kan duidelik maak watter verskil dit sal maak as ons die datum weet?

Seën

22 01 2011
johannes coetzee

Deon

Die datum van die wederkoms was nog altyd in die Skrif deur GOD as ‘n verborgenheid verseël en sou verseël bly tot die tyd van die einde toe.

(Dan 12:9) En hy het gesê: Gaan heen, Daniël, want die woorde bly verborge en verseël tot die tyd van die einde toe.

Maar nerens in die Skrif word verklaar dat die info vir altyd as ‘n verborgenheid verseël sou bly nie. Die Skrif is duidelik dat wanneer die tyd van die einde aanbreek (wat net GOD, en dus ook Jesus Christus in Sy alwetendheid ken) sou Hy ons as mens se geestelike ore en oë open vir hierdie verborgenheid wat “geskrywe” staan. Kennis aangaande die “tyd van die einde” sou dus vermeerder in die volheid van die tyd soos deur GOD voor die grondlegging bepaal.

(Dan 12:4) En jy, Daniël, hou die woorde geheim en verseël die boek tot die tyd van die einde toe; baie sal dit deursoek, en die kennis sal vermeerder.

Noudat ons in daardie tydsgleuf in beweeg het, nou open GOD sy ewige eiendomsvolk se harte (ore en oë) vir die verstaan van Sy Woord (die Bybel). Geen nuwe charismatiese drome of visioene of profetiese woord as sou dit van GOD afkomstig wees nie.

Miskien kan ons dit vergelyk met iemand wat hoor dat hy terminaal siek is en net 4 maande het om te leef….wat gebeur dikwels met so ‘n persoon…?

Vir die volle duur van OT en ook die NT kerk-eras (vanaf 1447VC met die Exodus tot 7 VC – met die eerste koms, en tot en met die 21 Mei 1988 ) sou hierdie inligting deur GOD verborge gehou word…maar noudat die inligting vanuit die Skrif deur GOD aan die wereld bekend gemaak is nou sal diegene wat dit weet nie stil gemaak kan word nie….!

In antwoord op Matt 24:26 en Mark 13:32 gee ek graag vir jou die volgende link na ‘n baie deeglike “Bybelstudie” waarin hierdie aangeleentheid aangespreek word:

http://www.familyradio.com/graphical/literature/nomanknows/nomanknows.html

En as jy vanaand kan, kyk of jy op AM 1197 khz kan inskakel, die message word kan regoor die hele wereld reg in die huise van die armstes van die armes “gratis en verniet” gehoor word….

Vrede

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: