Herinneringe…

8 08 2010

Darem vreemd hoe herinneringe ‘n mens soms net kan bestorm en onverwags vang. Sit gisteraand en praat met ‘n kollega, wat soos ek, ook verpligte militêre diensplig gedoen het as kapelaan. So met die gepraat begin daar hoeveel herinneringe deur my gedagtes spoel wat my laat wonder hoe diep van die herinneringe werklik lê. Hoeveel van Chris Louw se Boetman lê nog onder my vel en wegkruip? Ek weet nie….

Sommer so, sonder om te probeer sistematiseer of om te probeer orden in datum volgorde… onthou ek…:

  • Die kameraderie gedurende basies. Die saamstaan, die saam af-“chop”. Ek onthou die Dopper pelle wat die bottel Whiskey aan ‘n toutjie by die venster uitgehang het, die absolute sinnelose gerondjaag in die middel van die nag as die korporaal dronk terugkom in die basis.
  • Hoe die Afrikaanse, Engelse, Joodse en Sewendedag Adventiste dominees saamgebind word deur die saam swaarkry gedurende basies.
  • Die staande mag Kapelaan wat vir my sê die Belhar belydenis is 10% kommunisties – en sy gesig toe ek hom durf vra WATTER 10%!
  • Hoe die swart mense in Zwide die weermag op die hande gedra het in ’85, toe die weermag in die woongebiede ontplooi is, voor die noodtoestand. Ek onthou hoe die kampers, waarvan baie Xhosa kon praat, met die mense gesels het. Ek onthou hoe ons vrugte en koeldrank gegee is, want die inwoners het gedink ons kom beskerm hulle teen die polisie….
  • Hoe die vriendelike geaardheid soos handomkeer verander het toe die “powers that be” besluit het daar moet ‘n polisieman op elke weermag Buffel saamry. Hoe dit verder verander het toe die kampers afgehaal is en vervang is met jong 18jaar oud dienspligtiges.
  • Hoe die jong voertuig wag agterop die Buffel ‘n ou swart vrou met ‘n knopkierrie agter die kop geslaan het terwyl ons verbygery het. Hoe, nadat ek ‘n klag teen die troep gelê het,  ek ingeroep is op die rooi tapyt deur Brig Joffel van der Westhuizen omdat ek die “troepe se moraal ondermyn”!
  • Hoe die Kommandement Samjoor die volgende dag, nadat hy van my skrobering gehoor het, vragte knobkierries, assegaaie, ens., van weermag voertuie laat afhaal het.
  • Hoe ongemaklik ek gevoel het met die sake wat bespreek is as ek Brig Joffel van der Westhuizen se ordergroepe moes bywoon as die Kommandement Kapelaan weg was.
  • Die kommadant op Eenhana wat my binne ‘n paar minute nadat ek hom ontmoet het, vertel het hy gaan hoof van die leër word (hy het nooit nie….)
  • Hoe die einste kommadant in siviele klere rondloop, terwyl die res van die basis gedwing word om self op Saterdae en Sondae, as hulle af is, in vol browns rond te loop.
  • Die Samjoor wat die troepe probeer stilkry voordat ek opdaag om ‘n erediens te hou: “Julle f@#$%* troepe moet nou f@#$%* stilbly, want die f@#$%* dominee gaan nou kom f@#$%* preek!” Dit terwyl ek reg agter hom staan en my bes probeer om nie uit te bars van die lag nie… Weet nie wat die troepe van daardie dag se preek onthou het nie….
  • Die seiners se kamertjie, waar ons lekker kon sit en radio luister uit die “states” (Suid-Afrika) – en ook soms onwettig met die radio-telefoon “states” toe bel.
  • Hoe lekker ek en die Kom-Ops luitenant by die Ovambo hoofman kuier en Mahangu broodjies eet en bier drink. Hoe dieselfde hoofman die volgende dag ons skel omdat Koevoet deur sy Mahangu lande, deur die paalheining om sy stat, tot reg voor sy hut gery het. En met die wegry slag, na ‘n “ondervraging” sommer vir die lekker die heining en lande aan die ander kant ook stukkend gery het…
  • Hoe die dominee van die EGKA gemeente in Eenhana (susterkerk van die NG Kerk) vir my die gate in sy kerk se dak wys wat Koevoet daar geskiet het, sommer net vir die lekker.
  • My skok toe ek by Nkongo se menasie instap waar ek veronderstel was om ‘n diens te hou, en die aansteekbord is vol mens ore en ander liggaamsdele, by fotos van hoe die persone gelyk het toe hulle geskiet is.
  • Hoe minister Magnus Malan “kategories” ontken dat Suid-Afrika in Angola is of probeer wees. Hoe hy ‘n week later erken ons “was” daar, maar almal onttrek. Hoe Eenhana soos die Ben Schoeman hoofweg lyk terwyl die Ratels, Buffels, tenks “onttrek”, Noord, Angola in…
  • Hoe ek moet diens doen by die mediese pos wanneer Koevoet inkom om diesel en voorraad te kry – en reguit “medics” toe gaan vir penisilien inspuitings teen “VD”. Hoe die dokter hulle “opline”, broeke af, en die naalde soos “darts” in hulle boude ingooi!
  • Hoe die einste dokter wondere verrig om ‘n Koevoet lid wat onder ‘n Caspir beland het wat gerol het, deur te haal. Hy het vir my twee sakke plasma in die hand gestop, en ek moes druk om dit so vinnig moontlik in die man in te kry, terwyl die dok gewerk het om die bloeding te stop. Ek onthou ook sy uiterste teleurstelling toe hy hoor dat die man ‘n paar dae later in 1 Mil hospitaal oorlede is.
  • Die troepe wat met diep hartseer kom vertel van probleme by die huis. “Dear Johnnies” van meisies af, probleme tussen ouers, en die ouens sit ver, kan niks doen nie. Hoe manne begin soek na vastigheid as hulle ‘n slag onder die koeëls deurgeloop het…
  • Majoor (op daardie stadium) Willem Ratte, wat met sy vrou en dogter buite die basis se walle bly, tussen niks en nêrens, so 240km Wes van Rundu. Hoe die einste majoor in die nag Swapo uniform en “boots” aantrek en gaan rondloop waar die troepe die volgende dag gaan patrollie stap. Hoe daardie troepe, by hulle terugkeer in die basis, rondgejaag word as hulle nie sy spore opgetel het nie.
  • Hoe daar by dieselfde basis, laatmiddag ‘n Suid-Afikaanse Dakota sou land, om dan met ‘n ander bemanning verder te vlieg. Net om vroegoggend terug te keer, om te vertrek met die bemanning wat hom gebring het – wat nooit die nag in die basis in gekom het nie. Dit het my baie laat wonder, tot ‘n “rekkie” Kaptein wat ‘n keer of wat saam gevlieg het, na te veel biere vir my vertel het dat dit Amerikaanse loodse is wat die Dakota vol wapens bring. Suid-Afrikaanse loodse wat dit dan oor die grens vlieg na Savimbi se mense toe. Dit keer dan vroegoggend terug, vol ivoor as betaling vir die wapens…
  • Hoe ons lê en “tan” op die trampolien.
  • Hoe daar ‘n nuwe menasie gebou word op Mangeti-Duin, ‘n maand of wat voordat Namibia onafhanklik word en terwyl trokke dag vir dag weermag voorraad wegry Suid-Afrika toe.
  • Die lekker kerkdienste by die San van Namibia se Boesmanland, en hoe daar sommer in twee San tale in getolk word terwyl ek in Afrikaans preek.

Ja, onthou kan ‘n mens onthou… Ons Boetman generasie kan soms oor lang biere en rondom braaivleis vure probeer uitpluis hoekom ons daar was, of dit ooit sin gehad het. Sommige sal vreeslik vas staan op die waarde van wat ons gedoen het. Ander sien dit weer as uiters sinloos.

As ek egter terugdink, kan ek nie anders as om te dink dat as sommige goed anders hanteer was, baie lyding en dood gespaar kon gewees het nie – maar dit sou ‘n samelewing kopskuif nodig gehad het wat Pres de Klerk eers baie later gebring het. ‘n Kopskuif vanaf ‘n ons-julle denke, na ‘n ONS-ONS denke. ‘n Denke waarin ons saam kan besluit om saam te bou, eerder as af te breek. Nou nog raak ek sommer warm onder die boordjie vir mense wat al te maklik oorlog praatjies maak, niemand wen daarin nie, daar is net verloorders in oorlog.

Boetman, soms lê hy nog maar vlak…


Aksies

Information

7 responses

14 08 2010
Chris Burger

ja dit sal altyd in i ou se kop bly, kry nog partymal nagmeries van goed wat meer as 20 jaar gelede gebeur het. ons moet maar daarmee saamleef en sal dit verseker begrawe die dag as ons lang bome toe gaan.

9 12 2010
Faan Potgieter

Is dit n predeker wat sulke snert praat? Hoe lank was jou diensplig gewees? Gemeet aan al jou herineringe en plekke seker 5 jaar.

9 12 2010
Diakonos

Dagse Faan,
Definieer snert…😉 Alles wat hierbo geskryf is het ek self beleef. Die enigste hoorsê, en so aangedui, is die stuk oor die ivoor. Die vliegtuig het ek self gesien, etlike kere.

Maar net die normale 2 jaar diensplig met nog so klompie kampe daarna, waarvan die herinneringe 3 basisse en die tyd in die township dek. Daar was nog ander kampe wat ek nog niks oor geskryf het nie.

Wanneer was jy daarbo? My diensplig en kampe was vanaf ’85 tot begin ’90 in Namibia, met nog ‘n SA kamp of twee daarna.

30 05 2013
Jaco van Heerden

Hier word na ‘n insident in die tagtigs waar ‘n koevoet lid onder ‘n kaspir beland het en later oorlede is in 1 Mill. Ek lei af dat jy daar met hulp betrokke was of dit by iemand gehoor het. Indien wel is dit moontlik dat jy my bietjie meer inligting daaroor kan gee of waar ek meer daaroor kan uitvind. Indien dit in 1980 was is ek seker dit was my neef, naamgenoot Hendrik Jacobus van Heerden. Ons was nie bewus dat hy die ongeluk oorleef het en eers later in 1 Mill gesterf het nie as dit dieselfde geval was. Dalk kan jy bietjie meer inligting daaroor asook wat presies gebeur het vir my kan gee. Dis maar net iets wat in ‘n ou se kop rond dwaal. Dankie byvoorbaat.

30 05 2013
Diakonos

Hi Jaco!
Jammer dat ek jou nie kan help nie. Dit was ‘n swart koevoet lid waarna ek so kortliks verwys het wat oorlede is. Daar is ook ander persone in dieselfde ongeluk in 1985 oorlede, maar ek het nie detail oor wie dit was nie.

Sterkte!

30 05 2013
Jaco van Heerden

Baie dankie elke geval.

9 10 2014
Johan

Hi Deon, kom op soek na iets ander op die terugdink van jou af.
2 Goed tref my. Jy het die stukkie gepos op my uittreedag 08/08/10 toe ek ook besig was met my eie herinnering.
Was nie daar nie en sal nooit alles weet nie, maar waardeer jou eerlikheid so baie.
Die tweede vraag waarmee jy my laat is wat die goed is wat ons nou doen of nie doen nie waaroor ons later gaan wonder.
Besef net weer my eie behoefte aan ‘n nou-intense luister na wat God en mense rondom my se.
VREDE

Lewer kommentaar

Verskaf jou besonderhede hieronder of klik op 'n logo om in te teken:

WordPress.com Logo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by WordPress.com. Log Out / Change )

Twitter picture

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Twitter. Log Out / Change )

Facebook photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Facebook. Log Out / Change )

Google+ photo

Jy lewer kommentaar met jou rekening by Google+. Log Out / Change )

Connecting to %s




%d bloggers like this: