Ek glo…

11 06 2012
ImageEk glo in God die Vader,…En in Jesus Christus…Ek glo in die Heilige Gees. So sê ons mos as ons die Apostoliese Geloofsbelydenis opsê.
Maar, en dis ‘n GROOT maar! Wat beteken hierdie woorde regtig? Glo ons in drie gode, een God, hoe werk dit?
Kom ons begin maar met eerlikheid – Ons weet nie regtig hoe om die Drie-eenheid te verduidelik nie. Enige poging bly net dit, ‘n POGING. Ons taal, simbole, verstaan is nie genoeg om die volheid van God te verstaan en te verduidelik nie. Soos die een skrywer tereg sê: “People who say they understand it (The Trinity) aren’t to be trusted.”! (David Lose, Divine Relationship). Die simbool by hierdie geskrif is ook maar een van vele pogings deur die eeue om die Drie-Eenheid visueel uit te beeld.
Tog was daar deur die eeue baie pogings om die Drie-Eenheid te verduidelik.  Dit is nou maar inherent aan ons as mense om te probeer verstaan, al sukkel dit!
Die Egiptiese Woestynvaders het ‘n kerslig gebruik om die konsep van die Drie-Eenheid te probeer verduidelik: Hulle het die kers só gebruik om die Drie-Eenheid te probeer verduidelik:
  • Oorsprong van Lig – Dit is die Vader
  • Die Lig self wat verlig – Die Seun, Jesus
  • Die hitte wat jy voel – Die Heilige Gees
Al help die Woestynvaders se konsep, het dit ook, soos al hierdie konsepte en pogings, gebreke.
Nog iemand uit Afrika, Augustinus, het ook ‘n poging aangewend om die Drie-Eenheid te probeer verduidelik. Hy het gepraat van ‘n “Gemeenskap van liefde”. Sy beeld het nogal moontlikhede, al het dit ook gebreke.
  • Minnaar – God die Vader
  • Geliefde – Jesus, die Seun
  •  Die Liefde – Die Heilige Gees
Ons kan heeldag voortgaan om al hierdie pogings te lys, vanaf Patrick, die sendeling aan die Iere, se gebruik van die drie-blaar klawer, regdeur tot moderne teoloë. Al wat ons vir seker kan sê, is dat alhoewel die beelde ons help om ‘n mate van verstaan te kry, hulle almal ook aan ernstige gebreke ly.
Hoekom is dit dan belangrik om oor die Drie-Eenheid te praat? Daar is dan nie eers ‘n spesifieke teks in die Bybel wat hierdie verhouding uitspel nie! Nee, dit is eerder die manier wat die hele Bybel oor God praat, vanaf Genesis (“Ons”) regdeur tot die einde. Selfs die bekende Matt 28:18, 19: “Jesus kom toe nader en sê vir hulle: “Aan My is alle mag gegee in die hemel en op die aarde. Gaan dan na al die nasies toe en maak die mense my dissipels: doop hulle in die Naam van die Vader en die Seun en die Heilige Gees” (1983 Afrikaans vertaling) is nie ‘n sogenaamde “proefteks” nie, maar vat eintlik maar net saam hoe die hele oor God praat (Interessante tekste om na te kyk is, onder andere: Gen 1:1, 26, 1 Kor 5:18-20, Rom 5:1-5, Efes 1:3-14, Mal 3:6, Heb 13:8)
As die Bybel dan self die verhouding van Vader, Seun en Heilige Gees nie duidelik uitspel nie, hoekom moet ons oor dié saak bekommerd wees?
Dit is belangrik om vas te hou aan die Drie-Enige verstaan van God, want as ons dit nie doen nie, kruip allerlei probleme in ons verstaan van God en praat oor God in.  In sommige gevalle word die Vader bo die Seun, Jesus en die Heilige Gees geplaas. Dan word Jesus slegs mens, en in uiterste gevalle die Gees slegs ‘n “krag”. Die probleme sien ‘n mens al vroeg by die Arianisme. In sekere van die Gnostiese dwalings sien ‘n mens hierdie tendens ook. Vandag is dit in die “oneness” pentekostalisme te siene, asook in die manier wat Islam na Jesus kyk, om maar net twee voorbeelde te noem.
Ander kere word die drie persone van die Drie-Eenheid gesien as slegs maskers waardeur die een God Hom aan ons wys (modalisme), nie dat die drie Persone deel is van die wese van God nie.
Of die Drie-Eenheid word só geskei dat daar van drie afsonderlike gode gepraat word.
Al verstaan ons nie hoe die Drie-Eenheid inmekaar steek nie, en al skiet al ons beelde en konsepte ver tekort, is dit belangrik om vas te hou aan die belydenis dat ons glo in een God, Vader, Seun en Heilige Gees.
Wat weet ons wel van hierdie een God, Vader Seun en Gees?
  •  God se eenheid is baie dieper as dit wat ons ken in menslike verhoudings, al kan ons ondervindings van vriendskap, omgee binne families, vir ons so ‘n klein skynseltjie wys van wat God se eenheid behels.
  • Die lewe wat God gee is onselfsugtige liefde. Liefde wat uitgeleef word in die verhouding tussen Vader, Seun en Gees. Die bewys hiervoor kry ons in die offer van Jesus
  • God is nie ‘n krag of iets onpersoonlik nie, maar staan en wil in ‘n lewende verhouding met ons staan. God is een, maar Sy eenheid is die lewende eenheid van die Drie-Eenheid.
Hoe leef ons ons geloof in ‘n Drie-Enige God uit? Hoe beïnvloed my geloof in ‘n Drie-Enige God my alledaagse lewe? Daar is ‘n vlakke van my lewe waarop hierdie geloof ‘n effek het.
  • Leef NOU tot eer van God, nie net wag vir “eendag” in die hemel nie. Die Gees lei ons nou alreeds in God se wil.
  • Leef in volle verhouding met God en jou medemens. Jesus het nie verniet die Wet opgesom as liefde tot God en liefde tot die naaste nie.
  • Die eenheid in die Drie-Eenheid is ‘n simbool vir ons eenheid onderling. Vader Seun en Gees is in ‘n perfekte eenheid en verhouding met mekaar, en kan ons lei tot onderlinge eenheid.

Die vroeë Griekse vaders het die woord “Perichoresis” gebruik om hulle verstaan van die onderlinge eenheid tussen Vader, Seun en Gees te verduidelik. Dit beteken letterlik “ronddans”. Mag óns so in ‘n noue verhouding met die Vader, Seun en Gees leef dat ons met vreugde en in eenheid en liefde met die Drie-Enige kan ronddans!